| Die Universiteit Stellenbosch (US) kondig graag aan dat sy databewaarplek tot 06 Desember 2026 deur die CoreTrustSeal Standards and Certification Board as 'n betroubare databewaarplek gesertifiseer is. Amptelik bekend as SUNScholarData, word ons databewaarplek een van 107 databewaarplekke wêreldwyd wat die CoreTrustSeal-goedkeuring ontvang het, asook een van drie in Suid-Afrika en in Afrika. Wat ons aanbetref, is ons die eerste universiteitsbiblioteek in Afrika om hierdie gesogte sertifisering vir 'n databewaarplek te ontvang!
Dillo en Louw (2018) verduidelik die belangrikheid van 'n gesertifiseerde bewaarplek soos volg: "Om 'n gesertifiseerde bewaarplek te wees het verskeie eksterne en interne voordele. Dit verbeter byvoorbeeld die kwaliteit en deursigtigheid van interne prosesse, verhoog bewustheid van en voldoening aan gevestigde standaarde, bou belanghebbersvertroue, verbeter die reputasie van die bewaarplek, en demonstreer dat die bewaarplek goeie praktyke volg. Dit bied ook 'n maatstaf vir vergelyking en help om die sterk- en swakpunte van 'n bewaarplek te bepaal." Vir die Biblioteek- en Inligtingsdiens van die Universiteit Stellenbosch was die aansoek vir CoreTrustSeal-sertifisering die laaste aksie van die gesamentlike ilifu-projek wat al vier openbare universiteite in die Wes-Kaap betrek het. Ilifu het ten doel gehad om data-infrastruktuur vir navorsers aan die vier universiteite te verskaf. Die aansoekproses vir hierdie tipe sertifisering is 'n boeiende, streng en geensins onbeduidende proses nie wat ons gehelp het om ons eie interne prosesse teen verwagte standaarde te evalueer en ons dieper laat dink het oor die volhoubaarheid van ons databewaarplek. Die proses het ons ook gehelp om meer bewus te wees van ons swak- en sterkpunte.
Danksy hierdie sertifisering sal navorsers van die US nou verseker wees dat hul data in 'n gesertifiseerde betroubare bewaarplek gedeponeer word. Voorheen was baie navorsers onseker of hulle hul navorsingsdata moet deel uit vrees vir die veiligheid van hul datastelle. In 'n wêreld vol gruwelverhale van datamanipuleerders en datadiewe, het die Biblioteek altyd gewonder of dit net goed genoeg is om navorsers in te lig dat die databewaarplek volhoubaar en betroubaar is. Met hierdie sertifisering kan ons egter nou met trots verklaar dat ons deur 'n neutrale internasionale agentskap as 'n betroubare bewaarplek gesertifiseer is. Ons sertifisering is 'n duidelike aanduiding van hoe die Biblioteek die Universiteit se waarde van uitnemendheid uitleef.
Skrywer: Dr Siviwe Bangani
|