| ’n Besonder waardevolle, ryk en unieke manuskripversameling
is onlangs aan die Universiteit Stellenbosch se Biblioteek- en Inligtingsdiens
geskenk. Die Maguire San etnobotaniese versameling bestaan uit data wat
tussen 1954 en 1975 deur mnr Brian Maguire en sy vrou, dr Judy Maguire, in noue
samewerking met die San gemeenskappe (!Kung, Haillom, lXoo, en Naro) in die Kalahari ingesamel is.
’n Beduidende deel van die
fisiese versameling is gedigitaliseer en hierdie digitale rekords word openlik
vir navorsingsdoeleindes in die Biblioteek se digitale erfenisbewaarplek,
SUNDigital Collections, beskikbaar gestel by https://digital.lib.sun.ac.za/handle/10019.2/15524. Die versameling, bestaande
uit manuskripte,tikwerk, sketse, diagramme, gedrukte foto’s, wit-en-swart
negatiewe, kleurskyfies, veldnotaboeke en registers van plantversamelings, is
van groot wetenskaplike, navorsings- en erfeniswaarde. Dit was wyle mnr Maguire
se wens, en ook dié van dr Judy Maguire, dat die versameling ’n bruikbare
hulpbron moet word wat met jonger geslagte gedeel kan word. Dit bied die
geleentheid om van ons voorouers te leer oor die volhoubare gebruik van ons
inheemse plante in ’n Afrika-konteks. |