In sy openingstoespraak tydens die Universiteit Stellenbosch se 14de Jaarlikse Biblioteeksimposium het Professor Eugene Cloete (Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies) die afgevaardigdes uitgedaag om die paradigma oor hoe leer gebeur te verander. Volgens hom dui bibliotekarisse die pad aan en is hulle nie net volgelinge nie. Die simposium, met die tema Shaping the academic library of the future: adapt, empower, partner, engage, het op 3 en 4 November 2016 by STIAS plaasgevind.
Tanja Hichert het in haar stimulerende programrede, How to be 'future-fit' and manage complexity and uncertainty, beklemtoon dat die onstuimige tye waarin ons leef 'n ander manier van doen noodsaak. Regime verskuiwings, sistemiese verskille en stressors vorm deel van ons “vuca" wêreld van “volatility, uncertainty, complexity, and ambiguity". Strategieë wat sy voorgestel het, sluit in “crossing the river by feeling for stones underfoot" en “start walking and the road will come to you".
Dr. Andew Cox van die Universiteit van Sheffield het gepraat oor die uitdaging wat navorsingsdatabestuur vir bibliotekarisse inhou. Volgens hom is dit 'n unieke probleem met teenstrydige oplossings, maar wat nie noodwendig opgelos kan word nie. Bibliotekarisse het 'n baie positiewe rol om te speel in hierdie uitdaging.
Volgens Anita Nel, die HUB van Innovus, 'n US maatskappy verantwoordelik vir tegnologie-oordrag, het die Wes-Kaap, met sy vier universiteite en die MNR, beduidende potensiaal om 'n leidende kennisstreek te word. Innovus se vennootskap met die Biblioteek dra tot hierdie visie by.
Kate Robinson, Universiteitsbibliotekaris aan die Universiteit van Bath in die VK, het afgevaardigdes aan die dink gesit oor wat vir biblioteke moontlik is as instellings nuwe vennootskappe bedink en met nuwe bondgenote begin saamwerk. Sy het met entoesiasme gepraat oor die Great Western Alliance (GW4), 'n oop vennootskap tussen vier navorsingsintensiewe universiteite in die suid-weste van Engeland.
'n Kopskuif is nodig om te verstaan wat Web 3.0 vir die biblioteek van die toekoms inhou. Dit was die boodskap van prof Riaan Rudman van die US se prikkelende aanbieding. Die gebruiker van die toekoms is selfgesentreerd, soek onmiddellike bevrediging, het 'n kort aandagspan en sal liewer na 'n kort YouTube video kyk as om 'n akademiese artikel van 30 bladsye te lees. Dit was 'n reuseskok vir bibliotekarisse om te hoor dat sleutelwoordsoektogte besig is om uit te sterf!
Professor Mark Swilling het in die slotrede gepraat oor 'n groot transformasie ('n industriële sowel as 'n landbou-rewolusie) wat in die volgende 25 tot 50 jaar sal gebeur. Afstandsonderrig en e-leer sal algemeen wees en vrygewigheid, om vir ander te leef en oop toegang is kernwaardes wat benodig word.
Die Biblioteeksimposium is deur 133 afgevaardigdes (waarvan 42 van die US) van ongeveer 20 instansies bygewoon.
Besoek die Simposium se webblad vir meer inligting en vir die aanbiedings.