Beste Lesers
Met hierdie uitgawe van Bibnuus
deel ons weer eens 'n paar brokkies oor nuwighede en aktiwiteite by die Biblioteek.
Ons nooi ook almal uit om hul menings en voorstelle met betrekking tot die
Biblioteek met ons te deel deur middel van die Biblioteek se nuwe blog,
BiBlog.
Beste wense
met die middeljaar eksamen en die heerlike wintervakansie wat daarna voorlê.
Lucia Schoombee (Redakteur)
Nuwe personeel
Verwelkom saam met ons drie nuwe personeellede wat op 1 April by die
Bronverskaffingsafdeling aangesluit het. Hulle is(onder van links):
Paulette Taljaard, Laurinda Kleynhans en David Adams.
Alta Stone wen 'n iPod nano in die Biblioteek se kompetisie vir
nuwelingstudente
Die Biblioteek
bied elke jaar ’n verwelkomingsprogram vir nuwe studente aan. Die
program behels rondleidingstoere deur die Biblioteek, ’n uitstalling van
biblioteekdienste, die beskikbaarstelling van inligtingsmateriaal en
gratis geskenke soos waterbottels met die slagpspreuk "Info on Tap - drink dit innie Bib". Dié
verwelkomingsprogram word gedurende die daaropvolgende week opgevolg met meer in diepte
opleiding oor hoe om die katalogus en ander inligtingsbronne te gebruik.
Omdat dit vir ons so belangrik is dat studente die verwelkomingsprogram
bywoon, het ons besluit om vanjaar ’n prys aan te bied om studente aan te
spoor om aan die program deel te neem. Die Biblioteek
bied ’n magdom inligtingsbronne; inligtingsgeletterdsheidsopleiding en
'n groot verskeidenheid dienste aan en as studente nie daarvan bewus is nie
kan hul akademiese prestasie daaronder ly.
Die prys het inderdaad as aansporing gedien met 964 studente wat vanjaar
die program meegemaak het,
teenoor 838 studente in 2006. Dit dui op ’n beraamde 47% bywoningsyfer
deur nuwelingstudente met die hoogste bywoningsyfer deur die Fakulteit Natuurwetenskappe,
naamlik 68%. Altesaam 705 studente het
vir die kompetisie ingeskryf.
Ellen Tise (Senior Direkteur) en Elda Nolte (Assistentdirekteur:
Kliëntedienste) van die Biblioteek by Alta Stone, wenner van die iPod nano
in die kompetisie vir nuwelingstudente
Nuwe inisiatiewe
Metalib
Die nuwe Metalib soekstelsel maak dit vir biblioteekkliënte moontlik om
gelyktydig in meer as een databasis na inligting te soek. Die veelvoudige
soekfasiliteit sluit meer as 60% van die databasisse in waarvoor die
Biblioteek ‘n aktiewe subskripsie het. Kliek
hier om 'n soektog in veelvoudige databasisse uit te voer.
SFX
SFX
is nog ‘n diens wat vanjaar geïmplementeer is. Hierdie diens laat
biblioteekkliënte toe om toegang te verkry tot die volteks weergawe van
artikels in databasisse indien dit beskikbaar is. Met SFX is dit ook
moontlik om 'n groot persentasie bronne waaroor die Biblioteek beskik deur
middel van Google Scholar op te spoor. 'n "Full Text @ Stellenbosch"
skakel verskyn in die Google Scholar soekresultate van kliënte wat
kampusrekenaars gebruik. Deur op dié skakel te kliek, verkry die
biblioteekkliënt toegang tot die volteks weergawe van die artikel.
Elektroniese tesisdatabasis
‘n
Elektroniese tesisdatabasis wat gebou is op die DSpace-programmatuur,
is opgestel en vir ‘n proefperiode in gebruik geneem om die laai van oop
toegang (“open access”) tesisse en proefskrifte te toets. Verskeie tesisse
is gelaai en deur soekenjins soos Google en Yahoo geïndekseer en vindbaar
gemaak. Die prosedures vir die korrekte inhandiging van tesisse en
proefskrifte (met inagneming van embargo’s en uitgewerooreenkomste)
geniet nou aandag alvorens die databasis finaal in gebruik geneem sal
word.
Navorsingsuitsette
‘n Databasis vir die stoor en herwinning van die navorsinguitsette van die
Voortreflikheidsentrum vir Indringerbiologie is suksesvol ontwikkel en in
gebruik geneem. Hierdie databasis, wat ook op DSpace programmatuur gebou
is, dien as ‘n goeie riglyn om in die toekoms ander institusionele
navorsingsuitsette beter te kan bestuur.
Biblioteektuisblad
Die biblioteektuisblad het ‘n nuwe gesig gekry wat daarop gemik is om toegang tot
inligtingsbronne te verbeter en om 'n gebruikersvriendelike beeld te skep. Daarmee saam is ‘n
blog
geskep om
vir kliënte die geleentheid te gee om voorstelle te maak wat dienslewering
kan verbeter. ‘n “RSS feed”
is ook daargestel waarmee kliënte deurlopend
op hoogte kan bly van nuwe ontwikkelings by die Biblioteek.
Ellen Tise genomineer vir IFLA president
Me Ellen Tise wat in 2006 die leisels van die Biblioteek- en
Inligtingsdiens oorgeneem het, is deur die International Federation of
Library Associations and Institutions (IFLA) as 'n kandidaat genomineer
vir dié organisasie se presidentskap (2009-2011).
Me Tise is tans 'n lid van IFLA se Staande
Komitee vir Afrika en sy is ook die voorsitter van die Nasionale Komitee
vir die IFLA Wêreldkongres wat in 2007 in Suid-Afrika aangebied word.
Die nominasie is opsigself 'n besondere eer
vir die Biblioteek asook vir die Library and Information Association of
South Africa (LIASA) wat me Tise verteenwoordig.
Lees gerus
hier
meer oor die nominasie en me Tise se verkiesingsmanifes.
Biblioteekpersoneel by konferensies
Biblioteekpersoneellede sal gedurende die eerste semester by die volgende
konferensies bydraes lewer:
"International Conference on Postgraduate Supervison: The State of the Art
and the Artists" (23 – 26 April 2007) by die Universiteit Stellenbosch.
Joanne Arendse, Melinda Heese and Henriëtte Swart neem by hierdie
geleentheid deel aan 'n
paneelbespeking: "Adding value: a discussion on the academic librarian’s
role in supporting postgraduates and researchers at Stellenbosch
University".
"2nd International Conference on ICT for Development, Education and
Training" (28 - 30 Mei 2007), Nairobi, Kenia. Joanne Arendse
en Pieter du Plessis lewer by hierdie geleentheid 'n referaat:
"Challenging times: information literacy, librarian/lecturer partnerships
and e-Learning".
"Konferensie oor die Akademieskap van Onderrig en Leer" (22-23 Mei
2007), Technopark, Stellenbosch. Elbie van Wyk lewer by hierdie
geleentheid 'n referaat: "Librarian/Lecturer partnerships and e-learning:
'taking' the library resources to the students".
|
Van links is: Johan Engelbrecht (Adjunkdirekteur), Marié Roux
(Organiseerder van die fondsinsameling) en Ellen Tise (Senior Direkteur),
almal van die Biblioteek, Lorenza Williams (Watergarden), Jerome Slamat (Direkteur:
Gemeenskapsinteraksie) en Jan Bodenstein (Watergarden)
Gemeenskapsamewerking
Die Biblioteek
se tradisionele Kersfondsinsameling wat aan die einde van 2006 ten bate
van die Watergardenprojek geloods is, het R2000-00 opgelewer waarmee tien gazebo's aangekoop
kon word. Gazebo's was 'n spesiale behoefte wat deur die projekleiers
geïdentifiseer is om buitelugaktiwiteite met die kinders in die projek te
vergemaklik. Ander items wat ook vir die projek geskenk is, sluit
rakke, woordeboeke, kompakte skywe en ‘n digitale kamera in.
Die Biblioteek
is baie trots op en dankbaar teenoor personeel wat met soveel entoesiasme die
projek ondersteun het en dit steeds doen deur middel van voortdurende
skenkings wat vir die projek gemaak word.
Lees
hier oor
die Watergardenprojek of kontak Marié Roux vir meer inligting.
Naamsveranderinge
Die US Biblioteekdiens is herdoop na die
US Biblioteek- en Inligtingsdiens
om die diversiteit en omvangrykheid van dienste te weerspieël wat
aangebied word.
Bibliotekarisse by die JS Gericke Biblioteek wat vakspesifieke
inligtingsdienste aanbied, voorheen bekend as vakbibliotekarisse, heet nou
fakulteitsbibliotekarisse. Die betrokke personeellede is:
Melinda Heese – Fakulteit Regsgeleerdheid
Elbie van Wyk – Fakulteit Natuurwetenskappe
Carine Tymbios / Hanlie Strydom – Fakulteit AgriWetenskappe
Niel Hendriksz – Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Naomi Visser / Marié Roux – Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Marleen van Wyk – Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Sarie Wilbers – Fakulteit Opvoedkunde
Pieter du Plessis – Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Joanne Arendse – Inligtingsgeletterdheidsbibliotekaris
Tracy Britz – Afstandstudentebibliotekaris
Thea Basson – Staatspublikasiebibliotekaris
Die naam van die afdeling verander ook na die Afdeling Inligtingsdienste,
waarvan
die hoof Delene Pretorius is.
Prof Jannie Hofmeyr ontvang 'n geskenk vir sy deelname aan die "Biblioteeksterre"
inisiatief. Saam met hom is Lucia Schoombee (Webdienste en
Kommunikasie) en Ellen Tise (Senior Direkteur) van die Biblioteek- en
Inligtingsdiens
Biblioteekweekvieringe
'n Feestelike stemming het vanjaar met Biblioteekweek-vieringe
by die Biblioteek- en Inligtingsdiens geheers.
Aangesien die tema van Biblioteekweek "Biblioteke: jou sleutel tot die toekoms"
so goed ingeskakel het met die Biblioteek se missie, is dit as 'n carte
blanche beskou om die Biblioteek se teenwoordigheid en rol op kampus op 'n
vermaaklike wyse te herbevestig.
In die aanloop tot Biblioteekweek is sewe bekende Stellenbosch-kampus figure
genader om hul ondersteuning vir die Biblioteek in die openbaar te verklaar, elk
ter ondersteuning van 'n spesifieke diens wat hul van besondere waarde ag,
waarna plakkate van die "sterre" en hul aanhalings laat maak is.
Die "Biblioteeksterre" is: (kliek op 'n foto om die naam en aanhaling te sien)
In 'n verdere poging om soveel studente as moontlik se aandag op die Biblioteek
te vestig, is 'n bekende Stellenbosse groep genooi om 'n konsert in die
opelug amfiteater by die ingang van die Biblioteek aan te bied. In
gloeiende hitte het die groep, Clark & Van der Hoven "folk-rock" musiek
uitgebasuin en tussenposes deurspek met slagspreuke oor die waardes van die
Biblioteek.
In meer tradisionele trant is André P Brink, bekende Suid-Afrikaanse skrywer, na
die Biblioteek genooi om sy boek, Die Ambassadeur, wat al vir baie jare vir
Afrikaans en Nederlandse studente voorgeskryf word, te bespreek.
Ander aktiwiteite het 'n boetekwytskelding en uitstallings oor André P
Brink, oor die fyn lyn tussen die boek en kuns en oor Stellenbosse
skrywers ingesluit. Dié uitstallings het die interieur van die JS
Gericke Biblioteek opgevrolik en sommige van die Biblioteek se verborge
skatte uitgelig.
Clark & Van der Hoven tree op voor die Biblioteek |