BiBNuus
Library homepage
Koordlose toegang by Biblioteekdiens
Koordlose toegang vir skootrekenaars word voor die einde van die jaar by die JS Gericke, Ingenieurs- en Gesondheidswetenskappe Biblioteke sowel as USBI beoog. Dit is 'n uitvloeisel van die e-Kampus projek wat die gebrek aan rekenaar-kapasiteit op kampus aanspreek, onder andere deur middel van die aanwending van koordlose tegnologie. Die lewens-vatbaarheid van dié tegnologie is verlede jaar reeds suksesvol by die JS Gericke Biblioteek getoets.
Koordlose fasiliteite sal verligting bring vir studente se toenemende behoefte aan rekenaarsitplekke op kampus. Daar is tans 83 studente wat geregistreer is vir die gereelde gebruik van skootrekenaars in die JS Gericke Biblioteek en die verwagting is dat hierdie syfers volgende jaar skerp sal styg.
Daar word tans aandag geskenk aan metodes om die nodige ondersteuning aan studente te gee vir die gebruik van koordlose tegnologie in die betrokke biblioteke, spesifiek ten opsigte van die laai van sagteware aandrywers, opstelling van drukkerkonfigurasies, die registrasie van IP nommers en die verskeie sekuriteitsaspekte gekoppel aan koordlose toegang. 'n Aktiewe bemarkingsveldtog sal ook nader aan die implementeringsdatum geloods word.
Vir meer inligting, kontak gerus vir Wouter Klapwijk by tel.: 808-4378 of per e-pos: wklap@sun.ac.za.
This site is best viewed with Javascript enabled in your browser.Please enable your Javascript or contact your systems administrator.