Die eenheid vir Godsdiens- en Ontwikkelingsnavorsing (EGON) van die
Departement Praktiese Teologie en Missiologie (Fakulteit
Teologie) is besig met 'n groot gemeenskapsnavorsingsprojek
in 'n gebied wat strek vanaf Atlantis aan die Weskus tot by Gordonsbaai in Valsbaai. 'n Uitstalling hieroor is tans te sien by die
Teologie Biblioteek.
Deur middel van nuwe tegnologie is plekke van aanbidding, sjebeens,
bordele, ensovoorts gekarteer. Statistiek vir die demografiese
gegewens wat in hierdie verslae vervat is, is verkry van die polisie,
die Departement van Gesondheid en die laaste twee sensusse.
Met dié inligting wil die navorsers die grootste uitdagings wat
gemeenskappe in die gesig staar, identifiseer en kwantifiseer. Dit
is kerninligting vir sosiale- en gemeenskapsdienste wat misdaad,
wandade, vigs, werkloosheid en armoede teenwerk. Die belangrikheid
van die potensiële rol van geloofsgebaseerde organisasies word in die navorsingsverslae uitgewys.
'n Paar van die ses verslae wat reeds afgehandel is, is by hierdie
uitstalling in die Teologie Biblioteek te sien. Die omgewings wat
afgehandel is, sluit Kayelitsha, die Helderbergkom,
Guguletu/Nyanga/ Crossroads, Manenberg, die suidelike voorstede en
Mitchell's Plein in.
Volledige verslae asook ander resultate is beskikbaar by die eenheid
se
webtuiste.
Vir navrae oor die uitstalling by die Teologie Biblioteek, kontak
gerus vir Leeta Kellerman by tel.:
808-3507 of per e-pos:
ljk@sun.ac.za.
|