December 2013
Die Universiteit Stellenbosch se eerste sportdag het op Vrydag 25 Oktober 2013 by die Coetzenburg-sportterrein plaasgevind. Veertig personeellede van die US Biblioteek- en Inligtingsdiens het in spanne aan die pretloop, sokker-strafdoeluitkloppe en doelbal deelgeneem. Nadat die sportspanne gefinaliseer is, is die braaivleisspanne saamgestel – al die harde oefening moes mos darem beloon word met iets te ete en te drinke! Aanvanklike kommer oor die donker wolke en reënweer het gou in dankbaarheid vir die koelerigheid omgesit toe die deelnemers aan die pretloop besef het daar wag ‘n baie lang bult op hulle! Vir die minder fikses onder ons het die opdraandes amper die “pret” uit pretloop gehaal, maar handdoek ingooi bestaan nie in ons woordeskat nie en ons het vasgebyt. Die gees onder die deelnemers was ongelooflik en daar was baie ondersteuning vir diegene wat bietjie swaar gekry het. Die reën het sterker begin uitsak tydens die sokker-strafdoeluitkloppe maar dit kon nie die geesdrif demp of die braaivleisvure blus nie. Die lekker lewendige musiek en ‘n seremoniemeester vol kwinkslae het verder bygedra tot die wonderlike gees en die sportdag is gepas afgesluit met lekker kuier om die braaivleisvure. As ‘n welweesinisiatief was die sportdag ‘n baie groot sukses. Ons fisieke welstand is bevorder en dit was ‘n wonderlike geleentheid om oor afdelings, departemente en fakulteite heen gesellig saam te kuier. Dat so ‘n groot gedeelte van die Biblioteekdiens se personeel deelgeneem het, is ‘n aanduiding dat daar ‘n behoefte is om aan welweesaksies deel te neem en sosiaal saam te verkeer. Ons hoop dat die sportdag sal uitbrei en ‘n jaarlikse instelling sal word wat groot getalle deelnemers trek. Henriëtte Swart / Beulah Gericke Back to contents page / Terug na Inhoudsopgawe
This site is best viewed with Javascript enabled in your browser.Please enable your Javascript or contact your systems administrator.