BiBNuus
Library homepage
Waardevolle horlosie kry staanplek in Africana
'n Staanhorlosie, gemaak deur Johann Junck in ongeveer 1770, het onlangs 'n staanplek in die Africana afdeling van die JS Gericke Biblioteek gevind. Hierdie horlosie is die enigste van sy soort wat gedurende die agtiende eeu volledig aan die Kaap gemaak is. Junck was in diens van die Kompanjie as slotmaker en het in 1769 aansoek gedoen om vryburgerskap met die doel om as horlosiemaker 'n beroep te volg. Drie soorte inheemse hout is gebruik met die maak van die kas, naamlik stinkhout, geelhout en ebbehout. Volgens Hanna Botha van Spesiale Versamelings het die klokwerk 'n pragtige fyn en suiwer klank.
Dit is nie presies bekend waar die klok orals gehuisves was die afgelope twee eeue nie. Dit blyk asof dit vir 'n wyle in Nederland was. Dr. H.D. van Broekhuizen, ons gesant in Den Haag in die dertiger jare, het dit daar gekoop en teruggebring na Suid-Afrika. Sy seun het dit op sy beurt aan 'n vorige rektor van die US, Prof H.B. Thom verkoop. Na Prof. Thom se dood in 1983 is die horlosie geplaas in die US se administrasiegebou.
Die Historiese Monumentekommissie het in 1963 besluit dat die horlosie tot 'n nasionale gedenkwaardigheid geproklameer moet word. Die staanhorlosie was die eeste Suid-Afrikaanse voorwerp wat dié eer te beurt geval het. Een van die voorwaardes van die proklamasie is dat so 'n erfenisvoorwerp veilig bewaar moet word en toeganklik vir die publiek moet wees. Met die horlosie se koms na die Africana afdeling in die JS Gericke Biblioteek word daar nou aan beide hierdie vereistes voldoen.
Kontak gerus vir Hanna Botha vir meer inligting by tel.: 808-4398 of e-pos: jfb@sun.ac.za
Bron: Botha, Hanna. 2005. Iets om aan die groot klok te hang... Subnuus: Nuusbrief van die US Biblioteekdiens. Vol. 25, nr. 2, p. 2-3.
This site is best viewed with Javascript enabled in your browser.Please enable your Javascript or contact your systems administrator.