BiBNuus
Library homepage
Inligtingsvaardighede by Regte aangebied
Die Biblioteekdiens is vanjaar vir die sesde agtereenvolgende jaar betrokke by inligtingsvaardighede kursusse wat by die Fakulteit Regte aangebied word.
Dié kursusse, vervat in Regsvaardighede 211 en Regsvaardighede 411, wat deur die vakbibliotekaris vir regsgeleerdheid, Melinda Heese, in medewerking met ’n LL.M-navorser en assistente van die Privaatreg departement aangebied word, is in 1999 in die lewe geroep.
Die ontstaan van die vakke is direk gekoppel aan 'n leemte wat deur die regsprofessie geïdentifiseer is, nl. kandidaatprokureurs se onbedrewenheid in die opspoor van hofsake en wetgewing. Dit is in ooreenstemming met tendense wêreldwyd wat daartoe gelei het dat “legal research” by die meeste regskole in die VSA en Groot-Brittanje deel van die kurrikulum geword het.
Melinda Heese -Vakbibliotekaris vir Regte, JS Gericke Biblioteek
By Stellenbosch fokus Regsvaardighede 211 op Suid-Afrikaanse regsmateriaal (wetgewing, hofsake en sekondêre materiaal soos naslaanbronne, handboeke, tydskrifartikels en staatspublikasies) asook elektroniese databasisse soos JUTASTAT en LEXISNEXIS Butterworths Intranet Resources.
Regsvaardighede 411 se inhoud konsentreer op regsbronne van die VSA, Groot-Brittanje, Kanada, die EU, die Europese vasteland, Afrika, ander ontwikkelende lande asook regsbronne op die INTERNET en die volteks regsdatabasisse WESTLAW en LEXISNEXIS.
Die twee vakke is oorwegend prakties van aard met 15 weeklikse teoretiese lesings per vak wat opgevolg word met tientalle praktiese klasse en evaluerings. Groepsklasse word so klein as moontlik gehou (10 tot 15 studente). In die vierde jaar skryf studente ’n omvattende regsvergelykende werkstuk onder leiding van ’n regsdosent. Die werkstuk is ’n toepassing van so veel moontlik kennis wat in die vakke verkry is.
Die positiewe gevolge van die opleiding is dat regstudente meer onafhanklik in die Biblioteek en op die Internet werk; die gehalte van werkstukke het in die afgelope jare baie verbeter en studente het ’n breër internasionale oorsig wat hulle nie tevore gehad het nie. Omdat regsgeleerdheid ’n wetenskap is wat grootliks afhanklik is van inligting, is die belangrikste gevolg egter dat professionele regslui opgelei word wat effektiewe regsnavorsing kan doen. Vir verdere inligting, kontak gerus vir Melinda Heese by tel.: 808-4882 of e-pos: ms9@sun.ac.za.
This site is best viewed with Javascript enabled in your browser.Please enable your Javascript or contact your systems administrator.