STEVEN FREDERICKS TREE AF
NA 42 JAAR DIENS
Steven
Fredericks het sy loopbaan by die Biblioteekdiens begin
op die jong ouderdom van 24. Hy het op daardie stadium
slegs 'n
Standerd 8 sertifikaat gehad, maar
later sy Matrieksertifikaat en 'n Diploma in
Biblioteekkunde behaal. Hy het ook 'n graad in Biblioteekkunde
verwerf op 47-jarige ouderdom. Dié studies wat hy
buitemuurs aangepak het, is in 1995 beloon toe hy tot Junior
Bibliotekaris bevorder is. Hy is ook later tot Bibliotekaris en Senior
Bibliotekaris bevorder en was werksaam in die Gesondheidswetenskappe
Biblioteek en later by die Bronverskaffingsafdeling in die JS Gericke
Biblioteek.
Oor die laaste 42 jaar het Steven gesien
hoe die biblioteekberoep en die universiteit dramaties verander. Van
kleredrag, vervoer, die katalogiseringsproses, kopieermasjiene tot die
geleidelike ontstaan van die virtuele biblioteek. Steven noem ook dat
dit kophou verg om tred te hou met al die nuwe ontwikkelinge in die
biblioteekwêreld.
Biblioteekpersoneel het op
4 Desember byeengekom om afskeid van Steven te neem. Tydens die
geselligheid was dit duidelik dat Steven baie geliefd is onder sy
mede-kollegas. Sy vrou, dogter en kleinkind het ook die geselligheid
bygewoon.
Kollegas sal vir Steven onthou as iemand wat
ver gekom het met sy studies. 'n Vriendelike man, met 'n goeie sin vir
humor en groot toewyding tot die biblioteekberoep. Ons wens vir Steven
alle voorspoed en 'n wel verdiende ruskans toe.
Lees meer oor Steven se aftrede in die
Desemberuitgawe van
Kampusnuus, p.15.
Marié Roux
Back to contents page /
Terug na Inhoudsopgawe
|
Steven Fredericks
Steven by die afskeidsgeselligheid, saam met Ellen Tise (links),
sy vrou
Magdalene en Linda Bellairs (heel regs)
|