Wat is oop toegang?Oop toegang kan beskryf word as gratis, onmiddellike aanlyntoegang tot
navorsingsresultate en die reg om hierdie resultate te gebruik en
hergebruik soos nodig.
Wat is "goue" oop toegang?Uitgewers stel navorsingsartikels onmiddellik gratis beskikbaar in
eweknie-beoordeelde vaktydskrifte. Fooie vir die hantering van
navorsingsartikels ("Article Processing Charges") of outeursfooie mag
van toepassing wees.
Wat is"groen" oop toegang?Outeurs gee toestemming om hul gepubliseerde artikel gratis
beskikbaar te maak in 'n institutionele bewaarplek. Embargo's mag van
toepassing wees, afhangend van die uitgewer se beleid.
Wat is die voordele van oop toegang?Bespoedigde vind van navorsingsmateriaal, verbeterde sigbaarheid van
navorsingsuitsette, openbare belang en verryking en algemene verbeterde
onderwys is van die voordele van oop toegang.
Definisies
Voordruk ("Pre-print")Enige weergawe van 'n navorsingsartikel voor eweknie-beoordeling en
publikasie, normaalweg die weergawe wat deur die outeur aan die tydksrif
voorgelê word. Voordrukke word normaalweg nie in institusionele
bewaarplekke gehuisves nie aangesien dit nie aan eweknie-beoordeling
onderworpe was nie.
Na-drukweergawe ("Post-print")Die finale weergawe van die eweknie-beoordeelde manuskrip met
hersienings bygewerk. Dit staan ook bekend as die aanvaarde
outeursmanuskrip. Hierdie weergawe kan moontlik formaterings-, uitleg-
en pagineringsveranderinge na afloop van kopieredigering insluit.
Gepubliseerde tydskrifartikel ("Publisher's version")Die uitgewersweergawe van die artikel wat in die vaktydskrif verskyn.
Dit sluit alle uitgewersaktiwiteite soos teksredigering, formatering,
en indien van toepassing, paginering, in.
Hanteringsfooie ("article processing charges")'n Fooi wat die uitgewer verhaal om die hanteringskoste m.b.t. die prosessering van 'n navorsingsartikel te dek.
Institusionele bewaarplek ("institutional repository")'n Digitale argief vir die bewaring en beskikbaarstelling van
navorsingsuitsette van 'n instansie, bv. tesisse, proefskrifte,
navorsingsartikels en konferensiereferate.
SUNScholar is die institusionele bewaarplek van Universiteit Stellenbosch.
Universitiet Stellenbosch selfargiveringsbeleid
Wat vereis die beleid?Die beleid vereis dat voltekskopieë van gepubliseerde
navorsingsartikels of konferensiereferate van outeurs wat 'n formele
affiliasie met die US het in SUNScholar (institusionele bewaarplek)
gehuisves word.
Wat moet ek in die institusionele bewaarplek deponeer?- Volteks (PDF-formaat) van die gepubliseerde tydskrifartikel ("publisher's version") ooreenkomstig die uitgewer se beleid.
- Volteks (PDF-formaat) van die na-drukweergawe (aanvaarde
outeursmanuskripte met hersienings) van 'n tydskrifartikel
ooreenkomstig die uitgewer se beleid.
- Volteks (PDF-formaat) van eweknie-beoordeelde konferensiereferate ooreenkomstig die uitgewer se beleid.
Hoe deponeer ek items in die institusionele bewaarplek?- Kontak u Fakulteitsbibliotekaris wat namens u kan deponeer, of
- Deponeer self u navorsingsuitsette deur 'n e-pos aan scholar@sun.ac.za te stuur om aansoek te doen om as 'n deponeerder te registreer of volg die stappe soos uiteengesit op ons hulpblad.
- 'n Enkele individu mag ook namens 'n departement deponeer indien die
persoon as 'n deponeerder op SUNScholar geregistreer is en indien die persoon
al die nodige inligting het om die verwysing volledig in te vul.
Waar kan ek hulp kry rakende die deponering van my artikels op SUNScholar?Navrae kan gerig word aan u
Fakulteitsbibliotekaris of die afdeling vir
Digitalisering en Digitale Dienste.
Waar kan ek 'n uitgewer of tydskrif se beleid naslaan?- Besoek die webtuiste van die uitgewer of tydskrif, of
- Raadpleeg die SHERPA RoMEO of rchivit databasisse van uitgewersbeleide rakende argivering van navorsingsartikels in institusionele bewaarplekke, of
- Raadpleeg die lys van vaktydskrifte waarin US navorsers gereeld publiseer met meegaande beleide rakende selfargivering hier.
Kan ek steeds my voorheen gepubliseerde artikels in die bewaarplek deponeer?Ja, indien u steeds toegang het tot die na-druk- of ander toepaslike weergawe van die artikel.
In watter formaat moet my artikel gedeponeer word?Slegs PDF-formaat word op 'n institusionele bewaarplek gehuisves aangesien hierdie formaat geskik is vir langtermynbewaring.
Wat van my kopiereg?Outeurs word aangemoedig om die kopiereg te behou op materiaal waarvan die US die kopiereghouer is en om
'n "lisensie om te publiseer" te onderteken wat hulle sal toelaat om 'n
kopie van 'n artikel in SUNScholar te deponeer. Die "lisensie om te
publiseer" word gewoonlik verleen deur 'n "outeursaddendum" by
die uitgewer se kopieregoordragooreenkoms te voeg . Kyk gerus na 'n voorbeeld
hier.
Wat van embargo?Sommige uitgewers en vaktydskrifte vereis 'n embargoperiode
alvorens geargiveerde kopieë van artikels op 'n institusionele
bewaarplek toeganklik gemaak kan word en verskaf ook duidelike
instruksies in dié verband. Embargo's word outomaties binne die
bewaarplek gelig op die toepaslike datums.
Kan ek vooraf onderhandel dat my artikel in 'n institusionele bewaarplek gehuisves gaan word?U kan die tydskrif of uitgewer inlig dat u wel beplan om 'n
kopie op u institusionele bewaarplek te huisves. Verwys asseblief na die
vraag oor kopiereg hierbo.
Hoe sal 'n kopie van my artikel op SUNScholar my navorsingsimpak beïnvloed?Dit sal die sigbaarheid van u navorsing op die internet verhoog.
Die artikel op SUNScholar sal die korrekte verwysing en URL-skakel
vertoon wat verwys na die oorspronklike publikasie.
Hoe verwys 'n mens na die institusionele bewaarplek?Daar word nie na die bewaarplek self verwys nie, maar eerder na die
artikel soos wat dit op die oorspronklike vaktydskrif of uitgewer se
webblad verskyn. Hierdie inligting word op die rekord binne SUNScholar
aangedui.