Oct 2007 [English]

Universiteit Stellenbosch Biblioteek-en Inligtingsdiens   Stellenbosch University Library and Information Service

Beste Lesers

 

Met hierdie uitgawe van Bibnuus deel ons weer eens 'n paar brokkies oor nuwighede en aktiwiteite by die Biblioteek met julle.  Ons nooi ook almal uit om jul menings en voorstelle met betrekking tot die Biblioteek met ons te deel deur middel van die Biblioteek se nuwe blog, BiBlog.

 

Lucia Schoombee (Redakteur)

Pret op Loslitdag  

Bibliotekarisse by die JS Gericke Biblioteek het vanjaar met loslitdag behoorlik gees en vrygewigheid openbaar met hele afdelings wat volgens temas aangetrek en bygedra het tot die fondsinsamelingsaak.


In die foto (bo) vanaf links: Marie de Goede, Anna Kennedy, Elise Coetzee, Sheila Keet, Ivan Jacobs, Selma Kloppers en Paulette Talliard

Kliek op die foto's hieronder om nog Biblioteekpersoneel in kostuums op Loslitdag te sien.
        

Terugvoer oor fokusgroepgesprekke

Die kwantitatiewe LibQual biblioteekmeningsopname wat in 2005 uitgevoer is, het tot gevolg gehad dat verdere navorsingsareas geïdentifiseer is vir kwantitatiewe navorsing deur middel van fokusgroepgesprekke.

 

Hierdie kwessies was (1) redes vir kliënte se negatiewe persepsie oor die gehalte van die biblioteekversameling (inligtingsbronne) (2) redes vir kliënte se negatiewe persepsie oor toegang tot inligtingsbronne.

 

Die fokusgroepgesprekke is in Maart vanjaar gevoer en is deur Marlize Smit en Debbie Human van die Departement Ondernemingsbestuur gefasiliteer.

 

Ongeveer 20 akademiese personeellede en nagraadse studente onderskeidelik het deelgeneem aan die gesprekke.  Terugvoer uit die fokusgroepgesprekke was oorwegend positief en geen groot probleemareas is met betrekking tot inligtingsbronne geïdentifiseer nie.  Respondente het egter areas aangedui wat frustrerend is en wat verbeter kan word. 

 

Dit blyk dat die kommer oor die gehalte van, en die toegang tot, die biblioteekversameling (elektronies en fisies) wat tydens die LibQual opname uitgewys is, te wyte is aan 'n aantal kleiner kwessies en nie die gevolg is van ernstige probleme nie.

 

Die gevolg van die fokusgroepgesprekke is dat die Biblioteek spesifieke aksies beplan om die kommer wat deur deelnemers uitgespreek is, aan te spreek.

 

'n Paar voorbeelde van beplande aksies is:

  • 'n Opname om die moontlike tekortkominge in die Biblioteekversameling rakende plaaslike (Suid-Afrikaanse) publikasies wat verband hou met kwessies wat binne Suid-Afrikaanse konteks van belang is, te bepaal.

  • 'n Ondersoek om die moontlikheid van elektroniese aflewering van artikels wat deur die interleningstelsel aangevra is, te bepaal.

  • Verbeterde buite-kampus toegang tot elektroniese bronne(afgehandel).

  • Die ontwikkeling van 'n "how to" -webblad om kliëntselfversorgendheid te ondersteun met betrekking tot die opspoor van bronne, inligting en elektroniese dienste op die Biblioteekwebwerf.

  • Fokus op die aanbied van vakspesifieke kurrikulumverwante inligtingsvaardigheidsprogramme in fakulteite ten einde biblioteekopleiding in spesifieke modules te integreer.

Die volledige uiteensetting van die geïdentifiseerde tekortkominge en die Biblioteek se voorgesteld oplossings is beskikbaar op die Biblioteek se webwerf by:

http://www.lib.sun.ac.za/Fokusgroepe/feedback.htm

 

 

Internasional besoekers

  

Daar was die afgelope twee maande, wat gevolg het na die IFLA konferensie, 'n bestendige vloei besoekers aan die JS Gericke Biblioteek.

 

Een van die besoeke wat uitgelig kan word, is die van Biddy Fisher, Hoof van Inligtingsdienste, Sheffield Hallam Universiteit en lid van die Uitvoerende Raad van SCONUL, die VK Vereniging van Kollege, Universiteits- en Nasionale Biblioteke wat saam met haar eggenoot (Die Sekretaris-generaal van die Vereniging van Statebond Universiteite) die Universiteit op 5 September 2007 besoek het.

In die foto (bo) vanaf links: Lucia Schoombee (US), K Kekana (UWK), Sarah Kibirige (US), Wynand van der Walt (UWK), Elda Nolte (US), Pateka Ntshuntshe-Matshaya (UWK), Biddy Fisher (Sheffield), Ellen Tise (US)

Ander onlangse besoekers aan die JS Gericke Biblioteek sluit in: 

Van Noorweë:
Frode Bakken, Direkteur van die biblioteek by Telemark Universiteitskollege in Noorweë en voormalige president van die Noorweegse Biblioteekvereniging.
Helge Salvesen, Professor in geskiedenis en Direkteur van die Universiteitsbiblioteek van die Universiteit van Tromsø in Noorweë en lid van die raad van die Noorweegse Biblioteekvereniging.  


Van China:
'n Afvaardiging van die Nasionale Biblioteek in China.  Die besoek het voortgespruit uit 'n wederkerige ooreenkoms tussen die Departemente van Kuns en Kultuur van die onderskeie lande.  Die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika het gevolglik 'n wederkerige ooreenkoms met die Nasionale Biblioteek van China gesluit.

Van Finland:
Päivi Pekkarinen, Nasionale Gesondheidswetenskappe Biblioteek van Finland.
Eeva Murtomaa, Nasionale Biblioteek van Finland.
Eila Ramo, Universiteit van Kuns en Ontwerp Biblioteek van Finland.

Van Angola:
Twee besoekers van Angola wat die taak opgelê is om biblioteke dwarsoor Angola ('n akademiese inligtingsnetwerk) tot stand te bring en om in Suid-Afrika vir die doel advies in te win en beste praktyke te identifiseer:
Samuel Carlos Victorino (konsultant vir dr Adao do Nascimento, die Minister van Onderwys in Angola) en Joaquim José Migueis.

Van Kansas (VSA):
Lorraine J Haricombe, Dekaan van Biblioteke, Universiteit van Kansas.

Van Kentucky (VSA):
Kathleen RT Imhoff, Uitvoerende direkteur, Lexington Opebare Biblioteek.

Die Biblioteek brei sy e-boekversameling uit

Die Biblioteek- en Inligtingsdiens bied nou toegang tot 'n groot aantal elektroniese boeke in baie vakdissiplines.  Die meeste daarvan vorm deel van groot e-boekversamelings wat deur middel van die uitgewer se koppelvlak soekbaar is.  Die meerderheid e-boeke is ook individueel in die Biblioteekkatalogus gekatalogiseer.

Bykomend tot die versamelings waarop die Biblioteek ingeteken is, word 'n aantal vryelik beskikbare (gratis) e-boekversamelings ook deur middel van die Biblioteek se e-boeke webblad beskikbaar gestel by http://library.sun.ac.za/eng/finding/ez_books.html.

E-boeke is elektroniese weergawes van gedrukte boeke wat deur die Internet toeganklik is.  Sommige e-boeke word uitsluitlik in elektroniese formaat beskikbaar gestel.

Prosedures om toegang te kry, wissel: sommige moet "uitgeneem" word, soortgelyk aan die uitneem van 'n tradisionele gedrukte boek.  Ander kan gelees word deur bloot die hipertekskakel te volg.

Beide binne- en buitekampus kliënte kan toegang kry tot e-boeke.  Buite-kampus kliënte sal versoek word om aan te teken met hul US kampusnetwerk of -portaal aantekenkode om toegang te bewerkstellig. 

Die groot e-boekversamelings wat die Biblioteek toeganklik maak, sluit in:

African Digital Library
Ongeveer 4000 elektroniese boeke, gratis beskikbaar.  Oorwegend oor die onderwerp van bestuurswetenskappe.

Credo Reference
'n Versameling van meer as 250 naslaanwerke.

Ebrary
'n Groot versameling akademiese e-boeke oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe, insluitende naslaanwerke.

Gale Virtual Reference Library
'n Versameling ensiklopedieë, kalenders en gespesialiseerde naslaanwerke. 

'n Aantal individuele titels wat beskikbaar is, sluit in:
Oxford Dictionary of National Biography
Oxford English Dictionary Online
Pharos Woordeboeke / Dictionaries
The Stanford Encyclopedia of Philosophy (SEP)
Ullmann's Encyclopedia of Industrial Chemistry
Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)
World of Microbiology and Immunology, 1st Ed, 2V
Who's Who of Southern Africa

Vir meer inligting of vir navrae, kontak gerus jou fakulteits- of takbibliotekaris.
 

Encyclopædia Britannica Online
 
 

 

 

 

 

Encyclopædia Britannica Online is een van die elektroniese naslaanwerke wat deur die Biblioteek beskikbaar gestel word.

 

Dié bron bevat 73 000, sowel kort as boeklengte, artikels oor 'n groot aantal onderwerpe.

 

Buiten artikels, het Encyclopædia Britannica Online ook onderafdelings en multimedia-formate soos:

 

Video Collection (Videogrepe)
 

World Atlas (Verken die wêreld)
 

Compare Countries (Vergelyk inligting tussen twee lande)
 

Timelines (Verken die verlede)
 

Year in Review Browse (Lees oor vername persone en gebeure)
 

World Data (Inligting en statistiek oor lande)
 

Notable Quotations (Snuffel deur aanhalings van skrywers of onderwerpe)

Encyclopædia Britannica Online is beskikbaar deur die Biblioteek se webwerf by:

http://library.sun.ac.za/eng/finding/ez_books.html

 

Sekuriteit opgeskerp by die JS Gericke Biblioteek
 

Na 'n onlangse vlaag diefstalle in die Biblioteek was Biblioteektoegangsbeheerpersoneel noodgedwonge genoop om  helderkleurige sekuriteitsonderbaadjies aan te skaf .

 

Daar word gehoop dat die nuwe uniforms die sigbaarheid van sekuriteitsrondtes in die Biblioteek sal verhoog en daardeur as 'n afskrikmiddel sal dien teen boosdoeners.

 

Besoekers word nogtans versoek om te alle tye waardevolle items by hulle te hou terwyl hulle in die Biblioteek is.



In die foto (bo) vanaf links: Qobolakhe Botha en William Endley

Nuwe boeke

Nuwe boeke word elke week, vir een week lank, in die JS Gericke Biblioteek uitgestal (regs van die ingang, naby die koeranttafels).  Die boeke kan daar besigtig word en by die Uitleenafdeling bespreek word, waarna dit die daaropvolgende week beskikbaar is vir uitreiking.

        

Elsevier se Scopus beskikbaar vir 'n toetsperiode

Die Biblioteek het vir 'n proeftydperk van een maand toegang tot Scopus bewerkstellig.

Scopus, 'n produk van Elsevier Publishing Co., word algemeen beskou as die wêreld se grootste ekserp- en indekseringsdatabasis wat die volle spektrum van wetenskaplike,  tegnologiese en mediese literatuur dek, asook 'n beperkte dekking bied van die sosiale wetenskappe.

Die databasis word deur Web of Science, waarop die Biblioteek reeds inteken, geëwenaar.

Personeellede en studente van die Universiteit word aangemoedig om Scopus te toets terwyl dit vir 'n proefperiode beskikbaar is en om kommentaar te stuur aan Marita Landsberg.

 

Kliek hier vir die vorige uitgawes van Bibnuus.

Bibnuus word kwartaalliks uitgegee deur die Biblioteek- en Inligtingsdiens.
Kommentaar word verwelkom. 
Stuur asseblief 'n e-pos aan Lucia Schoombee.
Erkenning: Sonja Badenhorst vir die titelbanier.