Universiteit Stellenbosch Biblioteek-en Inligtingsdiens ● Stellenbosch University Library and Information Service |
|
Beste Lesers, Met hierdie laaste uitgawe van Bibnuus vir 2006 wil ons graag almal bedank vir die goeie samewerking, gesindheid, ondersteuning en belangstelling wat die Biblioteek die afgelope jaar geniet het. Ons sien daarna uit om dié goeie verhouding in 2007 voort te sit. Die tekens is reeds daar dat volgende jaar 'n opwindende jaar gaan wees ... maar tot dan, wens ons vir almal 'n heerlike feestyd toe! Beste wense, Oorhandiging van die SP Cilliers Katalogus Op 29 Augustust 2006 het die personeel van die JS Gericke
Biblioteek se
Dokumentesentrum die SP Cilliers katalogus in die Africana-lokaal
bekendgestel. Prof Cilliers (1925-2002) was feitlik gedurende sy hele
professionele lewe verbonde aan die US, vanaf 1957 as professor in die
destydse departement van Sosiologie en Maatskaplike Werk en later (1987)
as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Hy het ’n prominente
rol gespeel in die Universiteit en was betrokke by die meeste Senaats- en
Raadskomitees van die US. Sy nagelate dokumente weerspieël die groot bydrae wat hy gemaak het om sosiologie as ’n akademiese dissipline te ontwikkel, en die navorsing wat hy gedoen het op die gebied van industriële betrekkinge en sosio-ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika. Die rol wat hy oor vier dekades gespeel het om demokratiese sosiale verandering deur middel van navorsing, publikasies en openbare optredes te bewerkstellig, is ook goed gedokumenteer. Een hele deel van die 6-delige katalogus word byvoorbeeld gewy aan sy betrokkenheid by die Stedelike Stigting, waar hy op die Raad van Trustees gedien het van 1976-1995. Sy vrou, mev. Betsie Cilliers, sy seuns dr. Jakkie Cilliers en mnr Jan Cilliers het die familie verteenwoordig. Die geleentheid is ook bygewoon deur talle dosente en oud-dosente van die departement Sosiologie en Sosiale Antropologie en deur prof. Andreas van Wyk, oud-rektor en voorsitter van Het Jan Marais Nationale Fonds, van wie ’n ruim skenking ontvang is vir die verwerking van die versameling. Navrae: Mimi Seyffert by tel.: 808-4881 of e-pos: mseyf@sun.ac.za Elektroniese Tesisse en Proefskrifte: eerste treë Met 150 tesisse en proefskrifte wat reeds in die Elektroniese Tesisse en Proefskrifte (ETP) databasis beskikbaar is, is die eerste treë geneem om ’n “institutional repository” vir die Universiteit daar te stel. Die ontwikkeling van ’n Elektroniese Tesisse en Proefskrifte (ETP) databasis by die US Biblioteek- en Inligtingsdiens is daarop gerig om tesisse en proefskrifte wat deur studente op nagraadse vlak voltooi word, digitaal vas te lê, te indekseer en elektronies toeganklik te maak. Die stelsel waarmee die ETP-databasis ontwikkel is, is DSpace. Deur middel van DSpace word tesisse en proefskrifte digitaal bewaar vir langtermyn gebruik en dit is wêreldwyd toeganklik. Die e-tesisse en -proefskrifte word ook deur soekenjins soos Google en e-tesis registers geïndekseer en dit is deur middel van 'n "persistent URL" (ook bekend as 'n "handle"), wat nooit verander nie, toeganklik. Besoek gerus die Biblioteek se tuisblad om toegang tot die databasis te kry of gaan direk na https://etd.sun.ac.za/jspui of http://www.sun.ac.za/library/eng/about/ETD/index.htm. Vir meer inligting oor die projek, kontak gerus vir Laurence
Munro by munrol@sun.ac.za
of tel.: 808-4100. |
Die Negende Jaarlikse Biblioteeksimposium 'n groot sukses
Die Biblioteek se jaarlikse simposium wat vanjaar gefokus het op “Akademiese biblioteke: proaktiewe vennote in onderrig en navorsing” het weer eens gesorg vir een van die hoogtepunte van die jaar. Die simposium wat tussen 2 en 3 November plaasgevind het, het gespog met
gesaghebbende nasionale en internasionale sprekers insluitende Microsoft
se korporatiewe vise-president (Tegniese Rekenaarkunde, Gevorderde
Strategieë en Beleid), dr Tony Hey. Afgevaardigdes was tydens die dag en 'n halflange geleentheid deurlopend geboei deur die insiggewende hoë vlak aanbiedings van die onderskeie sprekers. Die hoop word gekoester dat die simposium die dryfkrag, entoesiasme en momentum geskep het vir bibliotekarisse om inderdaad proaktief te wees in die ontwikkeling en aanpassing van dienste vir die inligtingsbehoeftes van die 21ste eeu. Vir meer inligting oor die simposium, besoek gerus die simposium webwerf. Die Anglo-Boere Oorlog in Kaapstad en Stellenbosch Gedurende die langnaweek van 23 September 2006 is daar in die JS Gericke Biblioteek se Africana-kamer ’n uitstalling gehou vir ’n ABO studie- en belangegroep van Bloemfontein wat vanjaar ’n toer onderneem het om meer te wete te kom van die invloed wat die ABO op Stellenbosch en Kaapstad gehad het. Die navorsing wat deur Hanna Botha en Mimi Seyffert van die afdeling Spesiale Versamelings daarvoor gedoen is, het verrassend baie materiaal opgelewer. Treffende foto’s en ander dokumente wat in private versamelings in die JS Gericke Biblioteek se Dokumentesentrum ontdek is, het ’n beeld gegee van die invloed wat die ABO op die dorp gehad het. Talle reispermitte, waarsonder inwoners nie toegelaat is om die dorp te verlaat nie, is in verskillende versamelings opgespoor, o.a. selfs een vir mej. Maudie Krige se katjie met die skoorsoek-naam “Gen. de Wet” wat van Pretoria na Stellenbosch per trein moes reis! Stellenbosch was nie alleen bekend vir die perdevoorsieningsplaas, of “Remount Camp”, wat by Koelenhof geleë was nie, maar die hele universiteitsgemeenskap en die meeste van die inwoners is deur die oorlog geraak. Die dorp het ook sy kwota rebelle en soldate aan beide kante opgelewer, dokters van die dorp is ingespan om die gewondes te versorg en die bekende predikant ds. AF Louw is na St. Helena gestuur om die Boere krygsgevangenes daar te ondersteun. Sy broer, die rebel Willie Louw, is in dié tyd tot die dood veroordeel en tereggestel. Foto’s van dié gebeure toon die donker kant van hierdie tydperk.
|
Bibnuus
word uitgegee deur die Afdeling Beplanning
en Bemarking. |