Uitleenvoorregte
Voorgraadse studente mag 6 items vir 2 weke uitneem en mag elke item twee keer hernu, tensy iemand anders die item bespreek het. Sien Hoe kan ek my boeke hernu?
Items mag by die JS Gericke Biblioteek of enige takbiblioteek van die Biblioteek- en Inligtingsdiens terugbesorg word. Sien "Toeganklike biblioteke" hieronder.
Boeke kan gratis en sonder beperking bespreek word. Sien Hoe kan ek 'n boek bespreek.
Boetes op boeke wat na die vervaldatum terugbesorg word, is 50c per item per dag met 'n beperking van R20-00. Uitleenvoorregte sal opgehef word as hierdie grens oorskry word.
Die vervangingswaarde van boeke wat verloor of beskadig word, moet aan die Biblioteek- en Inligtingsdiens betaal word.
Materiaal beskikbaar vir uitleen
Alle materiaal kan uitgeneem word, behalwe tydskrifte, naslaanmateriaal, B.Th- tesisse, Bybelkommentare, musiek- en klankopnames, musiekvideo's, langspeelplate en musiek CD's en items wat "Not for loan" en "Restricted" gemerk is.
Toeganklike biblioteke
Alle biblioteke van die Biblioteek- en Inligtingsdiens is toeganklik vir alle studente van die Universiteit: JS Gericke Biblioteek, Ingenieurs- en Bosboubiblioteek, Teologiebiblioteek, Musiekbiblioteek (Stellenbosch),
Gesondheidswetenskappe Biblioteek (Tygerberg) en USBI (Bellvilleparkkampus Inligtingsentrum).
Sien Biblioteekure.
Toegang
Toegang by die JS Gericke Biblioteek en by die takbiblioteke is met 'n geldige studentekaart. Studente wat nie hul studentekaart byderhand het nie, sal slegs toegelaat word indien hulle hulself met 'n geldige identiteitsdokument kan identifiseer.
Fotokopiëring
Studente moet hul studentekaarte gebruik om fotokopieë te maak.
Rekenaardrukwerk
Elke rekenaar in die biblioteek is aan die SafeCom-drukstelsel gekoppel. Drukwerk kan dus by enige SafeCom-drukker op kampus afgehaal word met behulp van 'n studentekaart.
Biblioteekoriëntering en inligtingsdiens
Biblioteekoriëntering en bystand met opleiding in die opspoor van inligting word verskaf deur fakulteit en takbibliotekarisse.
Kontak jou fakulteits- of takbibliotekaris om 'n afspraak te maak vir biblioteekoriëntering of vir hulp met, en opleiding in die opsporing van inligting vir werksopdragte of raadpleeg die opleiding- en gebeurekalender vir die geskeduleerde sessies vir elke maand. Bespreek 'n spesifieke opleidingsessie of raadpleeg die voorgraadse opleidingsprogram vir 'n lys van alle opleidingsessies beskikbaar vir studente.
’n Aanlyn inligtingsdiens is beskikbaar by "Vra ons" (Ask a Librarian).
Hoe om boeke, artikels en ander inligtingsbronne op te spoor
Gebruik SUNSearch, die soekfunksie op die biblioteektuisblad, om inligting vir jou werkopdragte te vind.
Daar is riglyne in How do I find and use information effectively: a step-by-step guide.
Hoe kan ek my pad vind in die virtuele biblioteek
Daar is riglyne by Hoe kan ek my pad vind in die virtuele biblioteek vir voorgraadse studente
Koordlose toegang
Koordlose toegang ("wi-fi") is in al die biblioteke van die Biblioteek- en Inligtingsdiens beskikbaar, maar skootrekenaars moet daarvoor geregistreer wees. Inligting en aanwysings hieroor is beskikbaar by Hoe kan ek?
Internet
Gratis toegang word gebied tot alle internetbronne waarvoor 'n subskripsie uitgeneem is of wat op die Biblioteek- en Inligtingsdiens se webwerf beskikbaar gestel word (onder meer e-databasisse en e-tydskrifte). Algemene webwerwe, soos Google, is nie gratis beskikbaar nie en 'n NXInetkey moet oopgemaak word om toegang te kry.
Elektroniese bronne
Toegang tot meervuldige elektroniese bronne is beskikbaar by SUNSearch, die soekfunksie op die biblioteektuisblad. Tog word navorsers wat in-diepte navorsing doen aangeraai om ook binne die individuele e-bronne wat gelys word onder die "Soek" hofie op die biblioteektuisblad te soek.
Afkampustoegang
Al die elektroniese bronne wat die Biblioteek- en Inligtingsdiens aanbied, is ook vanaf huis-, kantoor- of skootrekenaars toeganklik. Gebruik die US netwerkgebruikersnaam en -wagwoord om in te teken.
Interbiblioteeklenings
Items wat nie in enige van die US biblioteke beskikbaar is nie, kan van ’n ander biblioteek in die land, of selfs oorsee, aangevra word. Kry meer inligting en aanwysings by Interbiblioteeklenings.
Afkampusdokumentlewering
Biblioteekmateriaal kan teen betaling na studente wat nie op kampus is nie, gestuur word. Meer inligting is beskikbaar by Afkampusdokumentlewering.
Lokaalbesprekings
Vir die bespreking van lokale by die takbiblioteke, besoek die webblad van die spesifieke biblioteek.