Uitreikings
Biblioteekmateriaal word by die uitleenafdelings van die JS Gericke Biblioteek en die takbiblioteke uitgereik. Kliënte mag self items by die selfuitreikingseenheid op die boonste vlak van die JS Gericke Biblioteek uitneem.
Die uitleenvoorregte en die uitleentydperk word bepaal deur die lidmaatskapskategorie van die kliënt en die tipe materiaal wat uitgeleen word.
Kliënte kan by My Biblioteekrekord bo-aan die biblioteektuisblad hul eie rekords nagaan om te bepaal hoeveel items hulle uitgeleen het.
Let asseblief daarop dat biblioteekmateriaal voor die vervaldatum herroep kan word indien die materiaal dringend deur ander kliënte benodig word.
Laat items
'n Boete van 50c per item per dag word vir laat items gehef. As bewys dat items wel terugbesorg is, word 'n kwitansie by terugbesorging uitgereik.
Kliënte sal per e-pos in kennis gestel word indien biblioteekmateriaal laat is.
Hernuwings
Biblioteekmateriaal kan twee keer hernu word, tensy dit reeds deur 'n ander kliënt aangevra is.
Kliënte kan self hul boeke hernu. Gaan na Hernu Boeke bo-aan die biblioteektuisblad.
Hernuwings kan ook persoonlik by die uitleenafdelings van die onderskeie biblioteke aangevra word, sowel as per telefoon (021 808 4883) of per e-pos.
Nuwe boeke
Alle nuwe boeke word vir 'n week lank op 'n rak vir nuwe boeke by die onderskeie biblioteke geplaas. Hierdie boeke mag nie uitgeleen word nie, maar kan by die uitleenafdeling van die betrokke biblioteek bespreek word. Hierdie boeke kan aan die einde van die vertoontydperk afgehaal word.
Terugbesorgings
Biblioteekmateriaal kan tydens biblioteekure by enige van die US biblioteke terugbesorg word, ongeag waar die oorspronklike lening plaasgevind het. 'n Terugbesorgingshouer is by die JS Gericke Biblioteek beskikbaar indien items ná ure terugbesorg word.
Bespreking van boeke wat uitgeleen is
Biblioteekmateriaal wat uitgeleen is, mag elektronies bespreek word. Vir aanwysings gaan na Hoe kan ek 'n boek bespreek?
Biblioteekmateriaal kan ook by die uitleenafdelings van die onderskeie biblioteke bespreek word.
Intertaklenings
'n Daaglikse pendeldiens vervoer biblioteekmateriaal tussen die drie Universiteitskampusse, naamlik Stellenbosch, Bellville en Tygerberg. Biblioteekmateriaal wat by enige van die biblioteke op hierdie kampusse gehuisves word, kan by die onderskeie uitleenafdelings aangevra word en sal by die gekose biblioteek afgelewer word. Gaan na Hoe kan ek 'n boek van 'n ander tak aanvra? vir aanwysings.
Let asseblief daarop dat materiaal nie tussen biblioteke op dieselfde kampus vervoer word nie. Materiaal wat by 'n ander biblioteek op dieselfde kampus beskikbaar is, moet persoonlik afgehaal word.
Vermiste boeke
Biblioteekmateriaal wat nie uitgeleen of op die aangewese rak is nie, moet by die uitleenafdeling van die betrokke biblioteek aangemeld word. Die personeel sal probeer om die verlore item op te spoor en aan die kliënt terugrapporteer. Indien die item dringend benodig word, kan dit by Interbiblioteeklenings aangevra word.
Verlore boeke
Kliënte wat geleende items nie binne ses weke vanaf die vervaldatum terugbesorg of hernu nie, sal 'n rekening ontvang vir die vervangingskoste van die items. Na ontvangs van die rekening moet items onmiddellik terugbesorg of die vervangingskoste by die uitleenafdeling van die betrokke biblioteek betaal word. Uitleenvoordele word outomaties opgeskort totdat die uitstaande materiaal terugbesorg is.
Kliënte wat biblioteekmateriaal verloor het, moet dit onmiddellik aan die betrokke biblioteek rapporteer. Kliënte sal 'n keuse hê om óf die vervangingskoste te betaal óf 'n soortgelyke kopie in die item se plek aan te bied.
Afhaal van materiaal
’n Toestemmingsbrief word vereis indien materiaal namens 'n ander persoon by die JS Gericke Biblioteek afgehaal word.