Waarom moet ek verwys?
"Ons verwys om erkenning aan daardie persone te gee wat die intellektuele eienaars is van die inligting wat ons gebruik het. Die intellektuele eienaars kan byvoorbeeld die outeurs van boeke of artikels, die ontwerpers van ’n produk, die vervaardigers van ’n film, of selfs die opstellers van ’n webwerf wees." (Van Dyk & Coetzee, 2010:4).
Wanneer moet ek verwys?
"Jy moet verwys wanneer jy ’n outeur se woorde direk aanhaal; iemand anders se idees in jou eie woorde omsit (parafraseer); ’n opsomming van iemand anders se idees maak; data, feite of ander inligting van enige bron gebruik; en tabelle, figure, diagramme, foto’s, of enige ander grafika wat nie jou eie is nie, gebruik." (Van Dyk & Coetzee, 2010:5).
Wanneer hoef ek nie te verwys nie?
"Jy hoef NIE ’n verwysing te gee indien inligting of menings as algemene kennis beskou word nie. Algemene kennis verwys hier na gevalle waar dieselfde inligting sonder verwysings in ten minste vyf bronne verskyn; die lesers van jou teks waarskynlik reeds met die inligting vertroud is; en die lesers van jou teks die inligting maklik in algemene inligtingsbronne (tydskrifte, koerante, ens.) sal kan vind." (Van Dyk & Coetzee, 2010:5).
Hoe moet ek verwys?
"Daar bestaan ’n hele paar standaardmaniere om na bronne te verwys. Verskillende organisasies, wetenskaplike vaktydskrifte of selfs die onderskeie departemente van ’n fakulteit kan egter elkeen verskillende voorskrifte hê vir die manier waarop verwysings gegee moet word. Dit is daarom belangrik om uit te vind wat die spesifieke voorskrifte van jou vakgebied, departement of fakulteit is." (Van Dyk & Coetzee, 2010:5).
Watter bibliografiese hulpmiddele is beskikbaar?
Waar kan ek vra vir hulp of opleiding as ek sukkel met my verwysings?
- Hulp is aanlyn beskikbaar en in gedrukte formaat in verwysingstylgidse wat vir spesifieke vakgebiede of fakulteite voorgeskryf is.
- Gedrukte verwysingstylgidse is beskikbaar in die naslaanareas in die biblioteek asook in die Leersentrum en Navorsingsruimte in die JS Gericke Biblioteek. Ask a Librarian indien jy hulp nodig het.
- "Hoe om te verwys" is ingesluit in al die Taalsentrum se modules oor akademiese geletterdheid asook in alle inligtingsvaardighede-modules.
- "Hoe om te verwys" is ingesluit in Inligtingsvaardighede 172 en 174 van die fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe, Teologie, Opvoedkunde en Regte.
- Die Skryflaboratorium bied skryfwerkswinkels en konsultasies aan vir alle studente. "Hoe om te verwys" maak deel uit van al hierdie werkswinkels.